Vryheidsmanifes

Die Vryheidsmanifes is 'n dokument wat die doelwitte en aspirasies van die opponente teen apartheid uitgespel het. Dit word opgestel en onderteken in Kliptown, Soweto gedurende die Congress of the People op 26 Junie 1955. Die byeenkoms word gereël deur die African National Congress (ANC) en sy bondgenote die South African Indian Congress, die South African Congress of Democrats en die Coloured People's Congress. Dié manifes word later aanvaar deur al vier organisasies.

Die byeenkoms in 1955 word deur die polisie opgebreek tydens die tweede dag. Die Vryheidsmanifes was egter op daardie stadium ten volle gelees. Nelson Mandela het van die byeenkoms ontsnap vermom as 'n melkman aangesien hy op daardie stadium ingeperk was wat beperkinge opgelê het ten opsigte van die hoeveelheid mense waarmee hy kontak mag gehad het.

Die dokument is veral bekend vir die verbintenis tot 'n nie-rassige Suid-Afrika. Nie-rassigheid het die politieke platform van die ANC gebly in kontras met die Afrikanistiese opposisie van die Pan Africanist Congress. Die Manifes doen ook oproepe vir demokrasie, menseregte, grondhervorming, arbeidsregte en nasionalisering.

Nadat die ANC aan bewind gekom het in Suid-Afrika gedurende Mei 1994, is van die Vryheidsmanifes se gedagtes geïnkorporeer in die Grondwet van Suid-Afrika.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search